Wees deel van die JouStorie-radiodrama!

Submitted by Rolina Vorster on Wed, 06/13/2018 - 09:09
 JouStorie-radiodrama

JouStorie-radiodrama - Daar was Die Du Plooys van Soetmelksvlei, Wolwedans in die skemer, Groblerspruit, Vuurvreters en selfs die lawwe avonture van Staal Burger. Min dinge dra soveel nostalgie soos ʼn radiodrama en die middae vasgenael voor ʼn draadloos.

Nou kan jy self deel word van die storie!

 

Skryf saam met ons

Maroela Media is al jare lank baie nou betrokke by gemeenskapsradiostasies en sedert 2012 bied ons elke jaar gratis ʼn radiodrama aan dié stasies. Die radiodramas word vervaardig in samewerking met die bekroonde Bettie Kemp en ʼn span gesoute akteurs. Hierdie jaar nooi ons jou om saam met ons te skryf aan ʼn splinternuwe radiodrama.

Dit werk só: Gaan klik “like” op ons JouStorie-Facebook-blad. Ons gaan gereeld op dié blad vir jou vrae vra, jou toelaat om voorstelle te maak, meer leer van die karakters en die skrywer gaan self vir jou die geleentheid gee om ʼn gedeelte van die verhaal te bepaal! Wees deel van dié opwindende veldtog en help ons om belangrike besluite te neem oor die radiodrama.

 

Help om die radiodrama te laat realiseer

Die kostes om ʼn radiodrama te vervaardig is baie hoog en ons het jou hulp nodig om seker te maak #JouStorie word uitgesaai! Jy het nou die geleentheid om op verskeie maniere deel van hierdie radiodrama te wees: jy kan saam met die akteurs kuier tydens ʼn opname, saam met ʼn bekende aan huis kuier terwyl hy vir jou ʼn ete kook, jy kan ʼn karakter se naam kies, ʼn episode borg of selfs jou onderneming se naam in die storie bemark.

Almal wat boonop aan Maroela Media se #JouStorie-veldtog deelneem en ʼn finansiële bydrae maak, word outomaties ingeskryf vir die kans om ʼn bootreis ter waarde van R20 000 te wen op die MSC Musica (bepalings en voorwaardes geld).

 

Hoekom moet jy betrokke raak?

Ons wil meer as net ʼn radiovervolgverhaal skep ... ons wil jou deel maak van die karakters, die storie en die groter projek. Hoe dan nou anders met ʼn wenresep: uit die gemeenskap vir die gemeenskap.

Jy help nie net met ʼn storie nie, jy help om Afrikaans se voortbestaan te verseker!

 

Lees meer by: www.joustorie.co.za

Share Everywhere