Agri SA bevraagteken geldigheid van #farmlist

Submitted by Rolina Vorster on Mon, 08/13/2018 - 10:20
agriculture

Agri SA bevraagteken die status en inhoud van die uitgelekte lys van plase wat na bewering vir onteiening sonder vergoeding (OSV) geoormerk is. Dié lys is die naweek bekendgemaak en het tot paniek onder grondeienaars gelei. Dit volg op 'n aanvanklike bangmaak-taktiek deur die ANC om 139 plase vir OSV te teiken.

"Agri SA is besig om die geloofwaardigheid van die lys van plase te verifieer," sê Dan Kriek, President van Agri SA. "Dit is onverantwoordelik van AfriForum om onbevestigde inligting te publiseer, juis omdat dit opruiend is.”

“Mede-boere word deur hierdie lys blootgestel.”

‘n Blitsopname het gewys dat dié lys onakkurate inligting bevat, wat maklik voor die bekendmaking daarvan verifieer kon word. Ondersoeke deur Agri SA se affiliasies het bevind dat sommige plase op die lys deur gesamentlike ondernemings met swart boere besit word.  Die lys bevat ook onvolledige inligting oor titelaktebeskrywings en plaasname wat verskyn sonder om die onderverdelings van daardie plase te vermeld.

Agri SA wil benadruk dat onteiening slegs met ‘n geoorloofde doel soos vervat in die wette van Suid-Afrika kan plaasvind. Daar is boonop 'n lang proses wat aan die vereistes van regverdige administratiewe optrede moet voldoen.

"Onteiening kan nie oornag gebeur nie en kan net plaasvind vir redes wat in ‘n algemeen geldende wet bepaal word," sê Annelize Crosby, Agri SA se Hoof van die Sentrum vir Uitnemendheid: Grond. Daar is verskeie voorgeskrewe stappe wat in onteiening gevolg moet word. Dit sluit in 'n kennisgewing van voorneme om te onteien, waardasie van die eiendom en onderhandelinge met die eienaars.

Aangesien die Grondwet steeds staande bly, is billike vergoeding die vereiste vir onteiening. Agri SA sal die boere se belange in die howe beskerm.

 

Agri SA

Share Everywhere